Wenke vir Onderwysers
This page is also available in English.
#1 Algemene wenke vir onderrig in 'n rekenaarlaboratorium
| Hierdie idees kom voor in 'n doktorale
proefskrif wat handel oor die werkswyse van Suid-Afrikaanse FET-leerders in
'n rekenaaromgewing in 2003. Dit mag wees dat leerders (intussen) hul
werkswyse verander het, maar in 2003 is bevind dat hierdie faktore bygedra
het tot produktiewe werk en leer in 'n rekenaarlaboratorium. Vir meer
inligting kan u die slotopsomming van die proefskrif gaan lees en dié is
aanlyn te vinde by
http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-08022003-002315 |
Daar is baie dinge wat jy kan doen om ‘n goeie onderwyser in die
rekenaarlaboratorium te wees. Oorweeg die volgende:
Sitplekke
- Laat leerders self hulle eie sitplekke kies en laat hulle toe
om daar te bly sit vir ‘n geruime tyd. Wanneer hulle tydens elke les op
dieselfde plek sit, ontwikkel hulle verhoudings met die leerders wat naby hulle
sit. Hierdie verhoudings bied aan leerders die selfvertroue wat hulle benodig om
op ‘n ontdekkingsreis met die rekenaar te gaan.
- Rangskik leerders se sitplekke sodanig dat
hulle naby aan mekaar sit sodat hulle maklik in groepe kan werk. Samewerking met
ander kweek selfvertroue sodat leerders met gemak verder kan ondersoek.
Algemene ingesteldheid
- Skep ‘n leeromgewing waar ondersoek en navorsing die norm is. Moenie alles
aan die leerders verduidelik nie. In Microsoft is daar gewoonlik vyf
verskillende maniere om ‘n sekere ding te doen – laat hulle self probeer en
uitvind wat die beste manier is.
- As onderwyser moet jy probeer om jou hande van hulle sleutelborde af te hou. Gee
leiding – moenie dit vír hulle doen nie!
Opdragte
- Maak seker dat leerders opdragte verstaan en snap wat van hulle verwag word.
Laat hulle die rekenaarskerms afskakel wanneer jy instruksies gee. Dan het jy
hulle volle aandag voor hulle wegspring met ‘n taak sonder dat hulle behoorlik
weet wat gevra is.
- Dit is nogal ‘n goeie plan om kernwoorde van die opdrag op die bord neer te
skryf. Leerders hoor nie altyd mooi wat van hulle verwag word nie en om te lees
kan net die instruksies versterk.
Inhoud
Maak seker dat die inhoud van die werk toepaslik en sinvol vir die leerders is.
Dit maak leerders meer gemotiveerd om die werk te doen.
Prentjies
Ontmoedig die gebruik van vooraf-ontwerpte prentjies soos dié wat in
Clipart aangetref word. Laat die leerders die perfekte prentjie op die Internet
of ‘n aanlyn ensiklopedie vind. Hulle kan ook self ‘n foto met ‘n digitale
kamera neem, ‘n prentjie skandeer of hul eie prentjie teken.
- Stel ‘n versameling van prentjies saam en stoor dit op die netwerk in spesifieke
vaksubgidse. Gee aan elke ‘n prentjie ‘n beskrywende lêernaam. Laat die leerders
prentjies op die netwerk soek.
Maats
- Leerders hou daarvan om te deel. Beplan opdragte só dat leerders hulle werk
en entoesiasme met hul klasmaats kan deel.
- Maak seker dat leerders naby aan mekaar sit en dat hulle dieselfde sitplekke
vir ‘n redelike lang tyd behou sodat hulle met vertroue met mekaar kan deel.
Terug na bo
#2 Assessering vir RTT en IT: Wat het regtig verander?
Die praktiese veranderinge in assessering vir die nuwe vakke word gedryf
deur die onderliggende veranderinge wat met die implementering
van VOO verband hou.
| Deurlopende assessering. |
Deurlopende assessering. |
| Hoofsaaklike doelwit is om punte te genereer. |
Hoofsaaklike doelwit is om die vordering teen die kriteria
(uitkomste) te meet. Daaglikse assessering gaan dus nie oor hoeveel punte ek
gekry het nie, maar oor WAT ek geleer het in die proses. |
| ‘n Groot versameling van “klein puntjies” word opgebou. |
Punte word slegs vir die formele assesseringstake gegee soos
gespesifiseer in die program van assessering. |
| Assessering neem die formaat van toetse (prakties en teorie)
en eksamens aan. |
Assessering neem formaat van toetse, eksamens, opdragte, take,
huiswerk ens. aan. |
| Normgerigte assessering (Vergelyk punte). |
Kriteriumgerigte assessering. |
| Assessering staan los van die leerproses. |
Assessering vorm deel van die leerproses. |
| Assessering deur onderwyser gedoen. |
Assessering deur onderwyser, leerder of maats gedoen. |
| Assesseringsresultate wys die leerder se vordering in terme van
punte in vergelyking met die res van die klas. |
Assesseringsresultate lewer bewys van vaardigheid en kennis. |
Praktiese implikasies vir assessering in die nuwe VOO (FET)
- Assessering word op ‘n daaglikse basis gedoen.
- Geen punte word vir daaglikse assessering gegee nie.
- Daaglikse assessering kan ‘n verskeidenheid vorms aanneem.
- Kriteriumgerigte assessering beteken dat die assesseringsinstrument die kriteria sal uitspel.
- Die take vir daaglikse assessering wys vanaf net een kriterium tot ‘n verskeidenheid kriteria.
- Leerder se prestasie volgens kriteria is gemeet volgens of hy die vaardigheid/kennis verwerf
het of nie.
- Leerders moet ook ‘n kopskuif maak, weg van punte na of hy die taak korrek uitgevoer het of nie.
- Punte word slegs vir 7 assesseringstake (insluitend toetse en eksamens) gegee.
- Die daaglikse assessering moet die opbou na die punte wys. Dit impliseer dat
daaglikse assesseringstake bewyse van die leerder se vordering in die vaardighede
wat in die assesseringstake vereis word, moet gee.
- Ingewikkelde puntestate verval – ‘n metode om die leerder se vordering volgens
kriteria wys moet gevind word. Die puntelys bevat slegs die formele assesseringstake
soos in die SAG (Subject Assessment Guidelines) uitgelig.
Verwys ook na die Q&A blad.
Terug na bo
#3 Leerderlêer
Die vereistes vir die leerderportefeulje word in die Nasionale
Protokol vir Assessering voorgeskryf.
Die leerderportefeulje moet ‘n geleentheid wees waar enige van die stakeholders in die onderwys bewyse van die
leerder se vordering, vaardighede en kennis moet kan vind.
Hierdie vereistes impliseer dat:
- Alle werk ingesluit word – anders kan vordering nie gesien word nie.
- Bewyse van die onderwyser se fasilitering in die leerproses ingesluit
word (daaglikse assessering).
- Die formele assesseringstake ingesluit word.
Wenke vir die praktyk soos getoets aan die Hoërskool Merensky in Tzaneen
Daar bestaan geen voorskrifte vir hoe die portefeulje ingedeel moet word nie,
dus word wenke wat in die praktyk getoets is hier gedeel. Elke onderwyser
moet die manier wat sy omstandighede en leerders die beste pas, uitwerk.
Tydsbestuur in die klaskamer met die vereistes vir assessering het baie belangrik
geword. Die program vir formele assessering het onder andere ten doel om die
onderwyser se werkslas te verminder sodat onderrigtyd nie aan “papierwerk”
verlore gaan nie.
- Elke leerder skaf ‘n lêer aan in die begin van die jaar. Hierdie lêer
word volgens temas ingedeel, met ‘n tussenblad wat die temas deel. Dit beteken
dat die praktiese en teoretiese werk in die volgorde waarin dit gedoen is,
geplaas word. Die formele assesseringstake word ook onder die tema geplaas.
Dit word so gedoen dat die vordering van die leerder duidelik gesien kan word.
Alhoewel dit logies om die nuwe werk bo-op die oues te plaas, kan die
leerder se vordering nie gesien word indien dit so gedoen is nie en word
die werk dus in volgorde met die oudste werk bo-op geplaas.
- Die feit dat alle werk in die portefeulje ingesluit moet word veroorsaak
dat ‘n groot hoeveelheid papier per leerder gebruik word. Die leerder se werk
kan ook op die netwerk gestoor word en dan later (aan die einde van elk kwartaal)
op ‘n CD gesny word. Daar moet baie seker gemaak word dat die aktiwiteite in
hierdie geval reg benoem is sodat die bewyse van daaglikse assessering
logies saam met die CD gesien kan word.
- Die assesseringsblaaie soos op die CD verskaf word uitgedruk en die leerder
of sy maat vul dit in. Die onderwyser gaan in die begin van die jaar die meeste
van hierdie assesserings na (nie in te veel detail nie) omdat die leerder nog leer
om op kriteria en nie punte nie, te konsentreer. Hierdie assesseringsblad word saam met ‘n
uitdruk van die werk geliasseer, of in die volgorde waarin die werk op ‘n cd gestoor is.
- Verder word vir elke kind word aan die begin van ‘n tema ‘n drukstuk gegee met al die leeraktiwiteite daarop. Ruimte vir sy naam
bo-aan, die datum en ‘n spasie vir kommentaar langs elke aktiwiteit
word toegelaat. (Sien voorbeeld). Soos die onderwyser
deur die klas beweeg en die leerders help om die werk te bemeester, skryf hy/sy
net kortliks kommentaar in die ruimte neer, bv. “gehelp met bullets, kom nou reg”
ens. Hierdie kort kommentaar is ook ‘n bewys van die leerder se vordering en die
onderwyser se bemoeienis met hom/haar deur die loop van die jaar. Die onderwyser
loop in elk geval tussen die leerders neer en help waar nodig – hierdie sisteem
help om ‘n rekord daarvan te hou.
- Die formele assesseringsaktiwiteite word met ‘n gekleurde “vlaggie” gemerk.
‘n Gekleurde stukkie papier word oorgevou en regs vasgekram. Die kleur van die
vlaggie stem met die kleur van die tussenblad van daardie tema ooreen.
- ‘n Indeks word aan die einde van die jaar gemaak om die persoon wat die lêer
moet modereer te help om die inligting vinnig en maklik te vind.
Terug na bo
#4 Die onderwyserportefeulje
Dokumentasie en die onderwyserportefeulje
Die onderwyserportefeulje is die rekord waarteen die kwaliteit van die assessering
verseker word en waarteen die leerder se lêer geevalueer kan word. Hierdie portefeulje
moet te alle tye op datum en beskikbaar wees.
As gevolg van die geintegreerde aard van onderrig en assessering is dit sinvol om
meer as net die assesseringsdokumente in die lêer in te sluit. Die onderwyser portefeulje
kan dus die weerspieëling van die vak en sy aanbieding deur ‘n onderwyser vertoon.
Die onderstaande lys stel die inhoud voor sowel as ‘n motivering vir elke insluiting.
- Voorblad: Die voorblad bevat basiese inligting omtrent die onderwyser wat die
vak aanbied. Dit bevat die volgende:
- Die naam van die skool.
- Die naam van die provinsie, distrik en streek waarin die skool geleë is.
- Die naam van die vak en die graad.
- Die naam van die onderwyser.
- Inhoudsopgawe
- Vakbeleid / vakdokumentasie: In hierdie afdeling word die dokumentasie aangaande
die vak ingesluit. Die aanbieding van die vak moet volgens die beleid gedoen word en die
onderwyser kan wetlik verantwoordelik gehou word daarvoor indien hy die beleid nie volg nie.
Om dus die beleidsdokumente in die portefeulje in te sluit kan die onderwyser en enige persoon
wat die portefeulje bestudeer of evalueer hom maklik daarvan vergewis of die onderwyser die
beleid uitvoer. Die afdeling sluit dus die volgende dokumente in:
- Die Nasionale kurrikulumverklaring (NCS).
- Leerprogram riglyne (LPG).
- Die vakbeleid van die skool.
- Assesseringsbeleid
- Vakassesseringsriglyne.
- Nasionale protokol vir assessering.
- Skoolassesseringsbeleid.
- Beplanningsdokumente: Hierdie dokumente weerspieël die wyse en tempo waarteen die
vak aangebied gaan word. Die sluit ook die beplanning van die daaglikse assessering in.
Hierdie afdeling sluit die volgende dokumente in:
- Die vakraamwerk. Dit sluit die omvang, die kennis, houdings en waardes rondom
die vak, die assessering oor drie jaar, die inhoud en konteks van die vak in. Dit
gee die beeld van die vak oor drie jaar weer.
- Werkskedule. Dit reflekteer die onderrig en assessering vir die 32-36 weke van die jaar in.
- Lesplanne. Hierdie is die beplanning van die aanbieding, die onderwyser en
leerderaktiwiteite asook die dag tot dag assessering. Dit sluit ook voorbeelde van die
dag-tot-dag assessering in, oefeninge en die assesseringsinstrumente in.
- Rekordering: Dit is die dokumente wat wat die data wat gedurende assessering
ingesamel is byhou vir die logiese analise en publikasie daarvan. Aangesien die rekordering
in die onderwyserportefeule van toepassing is op die program van assessering word die program
hier ingesluit. Dit is egter ook van pas om die program van assessering by die beplanningsdokumente
in te sluit. Hierdie rekordering is dus net van die 7 take wat vir die bevordering van die
leerder in ag geneem word.
- Program van assessering.
- Die voorbeelde van die assesseringstake vir die program van assessering en die
assesseringsinstrumente wat gebruik is vir die toekenning van punte daarvoor.
- Puntelyste. Die versameling van die leerderprestasie op puntelyste stel die
onderwyser in staat om die vordering van die leerders te beoordeel en sy beplanning/onderrig
aan te pas indien nodig.
- Notules van vakvergaderings: Aangesien skoolbeleidsbesluite op vakvergaderings die
onderwyser se aanbieding in die klas affekteer word dit ook hier ingesluit sodat enigeen wat
die portefeulje bestudeer die onderwyser se aanbieding en assesering van die vak in die lig
van hierdie vergaderings kan oorweeg.
Gebruik 'n kontrolelys om seker te maak die portefeulje is volledig.
Terug na bo